Nuusbrief Junie 2025
Eerste huise in Heuwelsig opgerig

Dit is duidelik dat die standaard van eiendomsontwikkeling in Orania voortdurend verhoog. Die nuwe woonhuise wat in Heuwelsig in aanbou is, laat reg geskied aan hierdie eksklusiewe ontwikkeling. Daar bestaan min twyfel daaroor dat hierdie woonbuurt – namate die bouwerk vorder – in die toekoms toenemend gesog gaan wees.
Die Orania Ontwikkelingsmaatskapy (OOM) is dankbaar omdat die maatskappy oor die nodige kundigheid beskik om sulke ontwikkelingsprojekte professioneel aan te pak en deur te voer. Heuwelsig, met sy siersteenmure en geplaveide pad, is ‘n mooi voorbeeld van hoe ontwikkeling in Orania behoort te geskied.
Fase II van die Olienhout-ontwikkeling vorder goed

Fase I van die Olienhout-ontwikkeling is afgehandel, met dié dat blokke D en E teen die einde van 2024 voltooi is. Studente van BKO gaan tans in die 22 beskikbare eenhede, wat as Vaalbos-koshuis bekend staan, tuis. Terugvoer van die studente dui daarop dat die eenhede nie net ideaal geleë is nie, maar ook lekker ruim is om in te woon.
Bouwerk aan die tweede fase van die ontwikkeling, wat reeds in Januarie ‘n aanvang geneem het, vorder goed. Die 64 drieslaapkamereenhede wat in aanbou is, sal in die toekoms aan groter gesinne die geleentheid bied om daar tuis te gaan. Hierdie ontwikkeling, wat deur Solidariteit Helpende Hand gefinansier word, het ten doel om inwoners deur middel van gepaste behuising te ondersteun. As Oraniërs is ons dankbaar vir al die insette in dié verband.
Bo-Karoo Opleiding gaan van krag tot krag

Op 2 Mei 2025 het BKO sy sesde verjaarsdag tesame met die jaarlikse opedag gevier. Vandat die instansie in 2019 gestig is, is hy lankal nie meer ‘n peuter nie. Nee, hy staan sterk op sy eie bene, reg om met elke tree ‘n blink toekoms tegemoet te gaan! Wat het werklik binne ses jaar gebeur? BAIE! Met agt kwalifikasies van hoogstaande gehalte, 24 personeellede, 205 studente en verskeie planne in sy agtersak, wink daar ‘n hoopvolle toekoms vir elke BKO-student op die horison.
BKO speel ‘n sleutelrol in Orania se verdere groei en ontwikkeling. Nie alleen verseker BKO dat vakmanne oor die kundigheid beskik om die stad te bou nie, maar die studente verleen ook ‘n eiesoortige studentekarakter aan Orania. In dorpe soos Stellenbosch en Potchefstroom het opleiding ‘n sleutelrol gespeel in dié dorpe se groei en ontwikkeling. Daar bestaan min twyfel oor BKO se vermoë om ‘n soortgelyke rol in Orania se toekomstige vooruitgang te speel.
Waarom ‘n plein vir Orania?

OOM is tans aktief besig om planne in plek te kry vir die ontwikkeling van Orania se eie plein. Vir dié doel word daar van verskeie kundige persone, soos Henk Bogerman, ‘n internasionaal gerespekteerde stedelike argitek, gebruik gemaak. Hierdie professionele span moet toesien dat Orania se plein ‘n unieke karakter, wat eie aan ons as Afrikaners is, aanneem.
Die oprigting van ‘n plein sal na alle waarskynlikheid ‘n sleutelrol in Orania se verdere groei en ontwikkeling speel. Die plein sal nie net aan verskeie kleinhandelaars die geleentheid gee om hulle besighede na ‘n hoër vlak te neem nie, maar ook aan alle Afrikaners (in- sowel as uitwoners) ‘n geleentheid bied om gesellig saam te verkeer.
Oom Paul oppad na Orania

Teken gerus 10 Oktober 2025 in u dagboek aan. Dit is die datum (DV) waarop die Kruger-beeld in Orania in ontvangs geneem gaan word. Die FAK het in samewerking met die Orania Beweging en OOM ‘n projek geloods wat dit moontlik gemaak het om ‘n presiese ewebeeld van die Kruger-beeld te vervaardig. Dit is hierdie beeld wat eersdaags sy staan in Orania gaan vind.
Vir Orania het Kruger groot simboliese waarde. Hy word onthou as die persoon wat die Afrikaner se republikeinse vryheidstrewe op ‘n Bybelgefundeerde wyse laat vergestalt het. Vir ons as Oraniërs gaan dit dus nie oor Kruger as sodanig nie, maar oor dít wat hy versinnebeeld. Net soos Kruger destyds, veg ons vandag ook om die behoud van ons eie kultuur en waardesisteem in ‘n eie, onafhanklike vaderland.
Ekonomiese ontsluiting nodig vir Orania se verdere groei

Ten einde Orania van ‘n dorp na ‘n stad te laat beweeg, is ekonomiese groei en ontwikkeling ‘n absolute voorvereiste. Daarsonder sal Orania nie daarin slaag om die potensiaal waaroor hy beskik te verwesenlik nie. Sodanige groei en ontwikkeling geskied egter nie vanself nie; dit verg deeglike beplanning en toewyding.
Werner Fourie, wat deel vorm van OOM se span, is tans besig met navorsing oor wat “landomslotenheid” vir Orania inhou. Die doel van hierdie navorsing is om te bepaal watter soort nywerhede vir Orania geskik sal wees. Geleenthede en uitdagings in groeisektore soos hoër onderwys, bejaardesorg, toerisme, ens. word ondersoek. Baie sterkte aan Werner met hierdie groot en uiters belangrike taak.
Die personeel van Hoeksteen doen meer as hulle deel

Die ontydige afsterwe van Danie van der Westhuizen het uiteraard ‘n groot leemte in die funksionering van Hoeksteen gelaat. Gelukkig het die personeel van Hoeksteen volle verantwoordelikheid aanvaar en só verseker dat alle take wat verrig moet word, glad verloop. OOM is opgewonde oor Willem Jacobs se aanstelling as Bestuurder: Hoeksteenontwikkeling en wens hom graag alle sterkte toe met sy groot taak.
Hoeksteen speel nie net ‘n sleutelrol in die instandhouding van OOM se fasiliteite nie, maar lewer ook ‘n groot bydrae tot verskeie projekte, insluitende alle logistieke reëlings tydens Bokkieweek. OOM is dankbaar om op die kundigheid en toewyding van dié manne en vrou te kan reken.
Bokkieweek 2025

Meer as 350 jongmense van reg oor die land het Orania vroeg in Mei 2025 besoek om mee te ding in rugby, netbal en hokkie tydens die O/23-Bokkietoernooi. Die deelnemers het die geleentheid gehad om nie net op die sportveld te kompeteer nie, maar ook om Orania se unieke karakter eerstehands te beleef. Vir baie was dit ‘n eerste om hul Afrikanerskap onbeskaamd en op ‘n spontane wyse uit te leef.
Dit bly vir OOM ‘n voorreg om Orania aan soveel jongmense en hulle vriende en familie bloot te stel. Dankie aan die manne van Hoeksteen wat baie ure spandeer het om alles in plek te kry vir die geleentheid. Orania het weereens bewys dat hy oor die vermoë beskik om sulke geleenthede met groot onderskeiding aan te bied. Volgende jaar (DV) maak ons weer so!
Die Trommel stel ’n nuwe standaard vir kleinhandelbesighede

Die verskuiwing van die Trommel vanaf die Kuierstoep na ‘n ander perseel het ‘n nuwe bedeling ingelui. Met die nodige ondersteuning van Helpende Hand se dames, wat kundig is op die gebied van kleinhandel, kon die Trommel wat voorkoms betref, ‘n splinternuwe baadjie aantrek. Ons is ook dankbaar vir nuwe lyne soos meubels, elektroniese toebehore en sporttoerusting wat nou te koop aangebied word.
Die onderlinge samewerking tussen Orania Helpmekaar en Solidariteit Helpende Hand bied ‘n geleentheid om die standaard van dienste wat Helpmekaar in die gemeenskap lewer, nog verder te verhoog. Ongeag of dit die opgradering van die Trommel, of die aanstelling van ‘n tweede maatskaplike werker is, Oraniërs staan in dankbaarheid teenoor die professionele maatskaplike dienste wat hierdie samewerking moontlik maak.
Vergelegen-erwe

Die prys van hierdie erwe, wat met teerstrate gediens is, wissel van so min as
R205 000 per erf tot R350 000 vir die groter en meer eksklusiewe erwe in Kapokboslaan. Orania Eiendomsontwikkeling (OEO) is ook reeds besig met die oprigting van ‘n aantal twee-slaapkamer huise wat eersdaags te koop aangebied gaan word.
Die Vergelegen-ontwikkeling bied aan alle Oraniërs wat gedissiplineerd met hulle geldsake te werk gaan, die geleentheid om die eiendomsmark te betree. Wat veral besonders is, is die R35 000 afslag wat OOM as aansporingsmaatreël aan eerste kopers in Orania bied om hul eie eiendom te bekom. Moenie hierdie besonderse geleentheid misloop om jou eie plekkie aan te skaf nie.
Werksgebou

Konstruksie aan die nuwe Werksgebou vorder goed met die blad van die boonste verdieping wat reeds afgehandel is. Hierdie drieverdiepinggebou gaan ná voltooiing nie slegs plek hê vir die kantore van OOM en sy filiale nie, maar ook ruimte bied aan persone wat vanuit Orania aanlyn werk. As alles volgens plan verloop, sal ‘n aantal woonstelle op die derde verdieping ingerig word.
Hierdie drieverdiepinggebou wat deur Eendracht (Solidariteit se beleggings-maatskappy in Orania) opgerig word, stel ‘n standaard vir die toekomstige ontwik-keling van die stadsplein. OOM is opgewonde oor ‘n nuwe fase wat met die oprigting van hierdie gebou betree word: nog ‘n belangrike stap om van Orania die toekomstige Afrikaner-hoofstad te maak.
Europese konstruksietoer bring vars inspirasie vir Orania

Tydens ’n onlangse Europese navorsingstoer deur ‘n groep van OOM se personeel is ‘n verskeidenheid van fabrieke, konstruksieterreine asook toerustinguitstallings besoek. Wat veral duidelik na vore getree het, is die oorskakeling na meganisering en outomatisering in die konstruksiebedryf. Hierdie verskuiwing het tot gevolg dat kleiner konstruksiespanne hoë produktiwiteit kan handhaaf deur die vindingryke aanwending van tegnologie.
Vir Orania was hierdie toer ’n duidelike rigtingaanwyser. Ons kan produktiwiteit verhoog deur sekere prosesse te meganiseer; ons kan ons unieke karakter versterk deur estetiese ontwerp; en ons kan langtermynkostes verlaag deur middel van verbeterde isolering en tegnologiese bestuur van ons toerusting en projekte. Die toepassing van hierdie beginsels kan ’n sleutelrol speel in die versnelling van ekonomiese groei en werkskepping in Orania.
Orania vier 100 jaar van Afrikaans

Op 8 Mei 2025 was Afrikaans amptelik 100 jaar oud en daarom het die FAK Noord-Kaap Kultuurnetwerk, in samewerking met die Orania-gemeenskap, hierdie besonderse gebeurtenis gevier en herdenk. Ongeveer 125 deelnemers was op die konsertverhoog om die tydsgebeure in die ontwikkeling van Afrikaans uit te beeld. Die nuwe “Bou in Afrikaans”-projek is ook bekend gestel. Bielie moedig mense aan om in hul werksplek mooi, suiwer Afrikaans te praat – iets wat eie en uniek aan Orania is.
In samewerking met die Vryheidstigting het die FAK ook die Jaap Steyn-simposium aangebied. Afrikaans se herkoms en ons wortels in die verre verlede, die amptelikwording van Afrikaans, die standaardisering van ʼn taal en die tekens van die vierde taalbeweging is bespreek. Dit is wonderlik dat Afrikaans en die toekoms van ons taal weer op almal se lippe is. Mag ons taal van krag tot krag gaan!
AfriForum woeker in die Noord-Kaap

AfriForum se Noord-Kaapstreek is hard aan die werk om van die Bo-Karoo ‘n veiliger streek te maak. Die afgelope kwartaal is een nuwe tak gestig, te wete die Groot-Karoo-tak, wat bestaan uit De Aar, Britstown en Hanover. Deben-buurtwag het as ‘n sektor van Kathu tot stand gekom en Hantam-plaaswag het die lig gesien. Orania is dankbaar vir die werk in dié verband, aangesien ‘n veilige streek vir Orania van groot waarde is.
Die Noord-Kaapstreek was ook verteenwoordig by AfriForum se streeksberaad vir die Sentraal- en Noord-Kaapstreke, wat op 17 Mei 2025 in Bloemfontein gehou is. Die beraad het in besonder gefokus op gemeenskapsveiligheid. Tydens die beraad is die geleentheid aan tak- en buurtwagbesture gebied om hulle onderskeie steunkring-waarderings te doen, en gebeurlikheidsplanne aan die hand daarvan op te stel.