Wie is ons?

Orania streef daarna om ’n selfstandige, onafhanklike tuiste vir Afrikaners daar te stel waarbinne elke inwoner vry, veilig en voorspoedig kan gedy. Hierdie tuiste moet nie net volhoubaar wees nie, maar dit moet ook in harmonie met die kontinent in die algemeen, en sy direkte omgewing in die besonder, kan groei en floreer.

Die strewe van Orania vorm deel van die Solidariteit Beweging se federale plan wat ten doel het om Afrikaners se identiteit te koester, gemeenskapstrukture vir Afrikaners op te rig en ’n ruimte daar te stel waarin Afrikaners in vryheid kan woon en werk. ’n Kantoor is gevolglik in 2020 geopen wat die Beweging in staat gestel het om as medeontwikkelaar by ’n verskeidenheid aktiwiteite in Orania betrokke te raak.

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) koördineer en bestuur sedertdien alle hulpverlening, beleggings en projekte van die Solidariteit Beweging in Orania. Wat die oprigting van fasiliteite betref, was OOM onder meer verantwoordelik vir die daarstelling van die Steenbok-herberg en die Gannabos-behuisingskompleks. Eersgenoemde is ’n fasiliteit waar groepe wat Orania besoek kan tuisgaan, terwyl laasgenoemde aan 102 gesinne verblyf verskaf. OOM was ook verantwoordelik vir die oprigting van die Bo-Karoo Veiligheidsentrum. Hierdie gebou huisves tans ’n mediese sentrum, en Orania se veiligheidsoperasies – sowel as dié van die streek – word hier gekoördineer.

Die behoefte aan bekwame, goed opgeleide vakmanne op Orania het daartoe aanleiding gegee dat Bo-Karoo Opleiding (BKO) in die lewe geroep is om toepaslike opleiding te verskaf. Op hierdie wyse voorsien BKO nie net in Orania se behoefte aan kundige vakmanne nie, maar verbeter dit ook inwoners se lewenstandaard. OOM ondersteun ook graag ander openbare ondernemings, soos die verskillende skole, Karoosig-aftreeoord en Helpmekaar maatskaplike dienste.

In samewerking met die Orania-dorpsraad het OOM in 2021 die dienste van stedelike beplanners bekom om ’n volledige stedelike ontwerp vir Orania daar te stel. Hierdie ontwerp verskaf die breë riglyne waarvolgens Orania van ’n dorp na ’n stad kan en moet ontwikkel.

Die toenemende belangstelling in Orania het OOM genoop om in 2024 ‘n skakelkantoor in Pretoria te open, sodat voornemende inwoners, sakemanne en beleggers gerieflik in die hartjie van die grootste Afrikaner-sentrum met raad en daad bygestaan kan word.

ORANIA ONTWIKKELINGSMAATSKAPPY MSW: BEDRYFSTRUKTUUR

Bestuurspan

Frans de Klerk
Uitvoerende hoof

Christa Bredenhann
Hoof: Korporatiewe dienste en finansies

Niël de Klerk
Hoof: Ontwikkeling en Belegging

Pieter Bisschoff
Hoof: Skakeling en Bemarking